Welkom

  • Bekroonde vrou–resensie Christina Landman

  • Wederkoms – resensie Joan Hambidge – 5 Maart 2009

  • Wederkoms –resensie Huisgenoot–Jan Bosman – 10 Mei 2009

  • Wederkoms – resensie Rapp–Louise Viljoen – 10 Mei 2009

  • Wederkoms – resensie Beeld–Thys Human – 16 Mei 2009
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  • Krüger, Louis 2009. Bekroonde vrou: vryheid in vrouwees – ’n geestelike reis. Wellington: Lux Verbi. ISBN: 978-07963-08627. Prys: R99.95.
    Smit, Johan. 2008. Staan jou man. Wellington: Lux Verbi. ISBN: 978-07963-07835. Prys: R109.95.
    Mostert, Bennie. 2008. Man van God: manne wat ’n verskil maak. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM). ISBN 978-1-77000-728-4. Prys: Onbekend.
    Resensent: Prof Christina Landman, Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika.

    In die kerkgeskiedenis sal die laaste kwart van die twintigste eeu bekend staan as die tyd waarin vroue-teoloë nuwe vroulikhede gedefinieer het. En in die eerste dekade van die nuwe millennium is dit vroue wat mans uitnooi om saam met hulle geslagtelikheid vanuit ’n godsdienstige perspektief te definieer. Louis Krüger se boek Bekroonde vrou staan so min of meer in hier­die nuwe tradisie van mans wat saam met vroue na nuwe moontlikhede van gelowige vrouwees soek.
    Met sy pragtige Doppervan en al, staan Krüger met sy een voet in die moderne vroue-teologie, en met die ander reeds in die post-feminisme. Die belangrikste kenmerk hiervan is dat Krüger nie die vroue in die Bybel as slagoffers sien nie, maar as agente, as aktief deelnemend aan die sake van die dag. Ek dink wel Krüger is naïef as hy dink dat vroue se lot en lewensgeluk toentertyd en vandag net van hulleself en ’n goeie selfbeeld afhang, maar Krüger se reis na vroue se selfuitdrukking in die Bybel is so opwindend dat ’n mens hom maar hierdie oorywerigheid kan vergewe. Hierdie is ’n dag­boek, oftewel ’n weekboek, met 52 weekstukkies wat wentel om die oor­vertel van vroue se verhale in die Bybel – juis vanuit die post-feministiese perspektief om vroue se agentskap in die Bybel te ontdek, vroue in partner­skap met mans te waardeer, en om Jesus se verbasende verhouding van gelykheid met vroue te ontgin. Die boek is goed geskryf en meer as leesbaar, met groot lewenswyshede wat vanuit elke bladsy na jou toe opspring. My geliefkoosde aanhaling staan op bladsy 68: “In hierdie lewe is ons stryd nie net teen die boosheid en die sonde nie, maar ook teen die domheid.” En dan gaan Krüger voort om die wysheidseienskappe van vroue in die Bybel te ontgin. Beslis die moeite werd om die vroue van die gemeente (veral Dopper­gemeentes) hieraan bloot te stel. Krüger bedien ’n gemeente in Nederland en is gevolglik aan goeie vroue-teologie aldaar blootgestel. Dis goed dat hy daardie insigte na ’n Afrikaanse leserskring deurgee.
    Krüger maak egter ook ’n paar slegte modernistiese blapse, en die belangrikste hiervan is dat hy nie regtig plek maak vir diversiteit onder vroue nie. Dis of hy nog steeds met “die essensiële vrou” werk, al lyk hierdie vrou nou anders as wat Abraham Kuyper gedink het die essensie van ’n vrou moet wees. Krüger se vrou is “wys en liefdevol”, terwyl Kuyper se geromanti­seerde vrou se siel te pragtig vir die politiek was. O ja, en die voorblad van Krüger se boek is afgryslik. Kan uitgewers nie nuwe simbole laat ontwerp om by ’n nuwe vroulikheid te pas nie?

    Krüger se boek word aanbeveel vir mans en vroue om saam te lees.


  • Wederkoms: Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop
    JOAN HAMBIDGE
    05/04/2009 04:26:29 PM - (SA)
    WEDERKOMS: DIE LEWE EN GESKIEDENIS VAN JANNES HOOP
    Louis Krüger
    Op die buiteblad van Louis Krüger se roman skryf George Louw dat dit vir hom moeilik is om sy ­fassinasie met hierdie teks presies onder woorde te bring. Met dié ­uitspraak kan ’n mens volledig ­akkoord gaan. Aangrypend is die vol­gehoue beelding van Jannes Hoop se armoedige lewe en stryd om oorlewing.
    Dié jongste van vyf kinders, met ’n soeke na aanvaarding by die skool, die verwerking van veral sy pa se dood en sy lewe op die Eiland, word delikaat verhaal. Op behendige wyse word die spel tussen die simboliese en aardse werklikheid volgehou. Hy sien engele en woon op ’n plek genaamd die Eiland.
    Die kind as buitestaander – voor­treflik al behandel deur ­Truman Capote en Carson McCullers, en in Afrikaans deur Jan van Tonder (in Roepman) – stel besondere eise aan die skrywer se verteltegnieke. Jy moet ’n toon volhou en nooit idees of insigte in die kind se vertel­wêreld indra wat die ­outentisiteit of integriteit van die vertelling sal steur nie. Hierin slaag die verhaal by uitnemendheid.
    Die seksuele ontwaking van die kind, die ervaring van varkslagtery en -etery, ’n kinderparty, die weggaan van ’n suster weens swangerskap en ’n vriendskap met, en verstoting deur, ’n ryk kind, word só met subteks en ­ironie gelaai dat dit die leser ­tussen die oë tref.
    Ons bly dus bewus van die kind, later die jong man, as fokalisator of waarnemer sonder dat die ­impli­siete outeur se visie versteur word. Ook die delikaatheid van, byvoorbeeld, die vader se aan­randing, of die dood van die varke (die varke van Gadara?) in ’n modder­bad, steur nie die inter­pretasie nie. Dit speel alles in jou gemoed af en die styl is minimalisties met ­elke woord op sy plek.
    Lees tot hier as ek nie die storie vir u moet bederf nie.
    Die troue met Myrte en die ­geveg op die troue (en haar uit­eindelike tragiese dood) word baie behendig vertel. Soos ook die geveg op die ­Eiland teen buitemagte. Die verhouding met Bas getuig eweneens van ’n besonderse aanvoeling vir die karakter Jannes.
    Die besondere krag van die ­roman is die voortdurende spel tussen werklikheid en verbeelding.
    Die roman het ’n bykans al­legoriese aan­slag wat reeds van die begin aangedui word met die ervaring van Engele. Regdeur die teks is daar Bybelse verwysings (varke van Gadara, die Rooi See, Openbaring, en so meer) en ’n voortdurende spel tussen die jong kind se waarnemings en die ouer persoon se herinnering. Die werklike skrywer laai vinjette dan ook met simboliese en vooruitwysende implikasies. Die ervaring van die kristal met die beeld van Jesus (wat deur die Pastoor gebreek word) neem Jannes terug na ’n kaart met diepte, waarop ’n skip deur blou golwe vaar.
    Dit het aan sy jeugmaat Lukkie behoort (iemand wat hom ook verwerp het ná die vark-etery), maar dit was buite sy bereik. Elkeen ontvang ’n brokstuk van die kristal met ’n beeld van Jesus in. Nie alleen is hierdie vinjet belangrik vir die simboliese einde nie en die spel met Openbaring nie, maar dit som ook die hele geestestoestand van Jannes op: ’n persoon wat telkens buite alles staan en soveel verliese én ellendes moet trotseer. Die ­leser vind, in Lacan se terme, ’n voortdurende spel tussen die ­verbeelde en simboliese orde.
    Soos dikwels by roman­skrywers is die slot – ten minste vir hierdie leser – ’n te maklike uitweg. Dit is bykans asof die geweldige implikasies en suggesties opgelos word. Dalk is dit juis die bedoeling in ’n sirkelgangteks.
    Wederkoms is ’n pragboek. Ek moet bely dat, ná ’n tweede lees, ek meer van die persoonlike stryd as die gevegte teen die buitemagte ­gehou het.
    Die roman is ’n implisiete antwoord op C.M. van den Heever se romans.
    HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 237 BLADSYE, ISBN 9 780 79814 997 6.)
    JOAN HAMBIDGE IS ’n SKRYWER EN ­PROFESSOR IN AFRIKAANSE LETTERKUNDE EN SKEPPENDE SKRYFKUNDE AAN DIE uk

    Die Burger
    5 Maart 2009


  • WEDERKOMS  ***
    Deur Louis Kruger
    Human & Rousseau
    R165
    Jannes Hoop se ma is met sy geboorte dood, maar dis nie ál klap wat die lewe hom gee nie. Die huis waarin hy grootword, is seker die armste op die Eiland en elke keer wanneer dit lyk asof sy omstandighede verbeter, gebeur iets wat sy vooruitsig op ’n beter toekoms nek omdraai.
    Die Eiland kan as ’n metafoor vir blank Suid-Afrika in die 1980’s beskou word: ’n Groep mense probeer hulle teen die wêreld verskans, maar hulle is pal bewus van ’n bedreiging waar-
    teen hulle nie opgewasse is nie.
    Maar Wederkoms gaan oor meer as dit. Dit sê ook iets oor groepdinamiek, die godsdiens en kerke, klasverskille, kinders wat weens die sondes van hul vaders ly en die bevraagtekening van gesag. Hierdie roman is nie ligte vermaak nie. Dis ’n boek wat van sy lesers vra om te dink – en na te dink – oor dit wat hulle gelees het.
    JAN BOSMAN
    HUISGENOOT


  • Nederlandse dominee se apokaliptiese roman sober en sensitief
    Louis Viljoen
    Wederkoms – die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop deur Louis Krüger. Uitgewer: Human & Rousseau. R165.
    Louis Krüger woon reeds van 1984 in Nederland, waar hy as predikant werk, maar bly ’n bestendige bydrae lewer tot die Afrikaanse letterkunde met sy romans en jeugromans.
    Sy jongste roman, Wederkoms – die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop, word êrens in die Noordweste geplaas. Hoewel werklike plekname soos Aggenys, Mier en Keidebees voorkom, word die spesifieke ligging vaag gehou.
    Die gebeure speel af in ’n toekoms waarin ’n derde wêreldoorlog dreig, en ’n groep omgewingsaktiviste genaamd die Tempeliers het daarin geslaag om groot multi-nasionale maatskappye soos Shell, Microsoft, McDonald’s en Nike ten gronde te laat gaan. Wanneer die roman afspeel, rig die Tempeliers hul visier op die maatskappy wat besig is om ’n dam by Tweerivier in Suid-Afrika te bou wat die Eiland, waarop ’n armoedige gemeenskap woon, onder die water sal laat.
    D is die agtergrond vir die “lewe en geskiedenis van Jannes Hoop” – een van die geringstes in ’n arm werkergemeenskap. Jannes se moeder sterf by sy geboorte omdat sy pa, Adam Hoop, by ’n ander vrou kuier en nie by is om ’n dokter te ontbied nie. Die familie is vasgevang in ’n siklus van armoede waaruit hy nie kan kom nie, waarvan Adam se mislukte poging om met varke te boer getuig.
    Daar is dus heelwat ironie opgesluit in die naam Hoop: Jannes voel by geleentheid dat ’n toekoms die een ding is waarop ’n Hoop geen vooruitsig het nie. Hy verwag dus niks, hoop op niks en verkies om nie raakgesien te word nie. Hy slaag matriek, maar werk daarna by die Koöperasie, waar hy sakke laai en die minste van almal verdien. Hy gaan nie kerk toe nie, want hy glo iemand soos hy sal nie welkom daar wees nie. Hy kan dit byna nie glo dat hy so gelukkig is dat iemand met hom wil trou nie, maar sy vrou, Myrte, pleeg selfmoord minder as ’n jaar nadat hul kind, Bas, gebore is.
    Hy sluit hom later wel aan by die Broedergemeente, waardeur hy sy intuïtiewe aanvoeling vir die teenwoordigheid van God kan kanaliseer. Wanneer dit blyk dat die Eiland oorstroom gaan word deur die dam wat gebou word en die Eilanders deur die regering aangesê word om hul tuiste te ontruim, besluit hulle om hulle (met die hulp van die Tempeliers) te verset. Hoewel Jannes nie deel wil wees van die verset nie, kom hy en sy seun om in die gevegte wat volg.
    ’N Mens sou kon redeneer dat ’n resensent liefs nie die verhaal op hierdie manier moet uitlap nie. Tog is Krüger se roman so gestruktureer dat ’n mens reeds in die eerste paar bladsye besef dat Jannes in die oorgang van lewe na dood verkeer en dat Bas (van wie jy eers later uitvind dat hy Jannes se seun is) dood is.
    Van hierdie punt aan die einde van Jannes se lewe word daar dan teruggekeer na die verhaal van sy lewe wat hom uiteindelik by daardie einde sal uitbring.
    Ten spyte van die voorkennis bly ’n mens geboeid lees omdat Krüger daarin slaag om spanning te skep deur die geleidelike onthulling van gegewens en die krag van sy beskrywings.
    D aar het in die laaste tyd ’n hele aantal tekste verskyn wat ’n beeld gee van Suid-Afrika êrens in die toekoms en waarvoor die term “apokalipties” soms gebruik word, soos byvoorbeeld Eben Venter se Horrelpoot.
    (Miskien sou dit beter wees om die term “distopies” te gebruik omdat dié romans – soos die woordeboekverklaring van “distopie” lui – ’n toekomsbeeld gee van ’n plek of toestand waar dinge so sleg moontlik gaan). Hierteenoor is Wederkoms ’n apokaliptiese roman in die letterlike sin van die woord omdat dit gaan oor die apokalips in die religieuse sin van die woord en dan ook nog afspeel in ’n toekoms wat lyk of dit inderdaad afstuur op die “einde van tyd”.
    Hoewel ’n mens Jannes se sterwens-ervaring sou kon lees as beskrywing van die gelowige se vereniging met God ná die dood, is daar tog duidelike aanduidings dat dit gaan oor ’n wederkoms wat almal raak. Daar is byvoorbeeld tekens dat ook ander mense Jannes se bewuswording van die teenwoordigheid van engele en reeds gestorwenes registreer.
    Tog is dit betekenisvol dat Krüger kies om die wederkoms te beskryf vanuit die perspektief van ’n heel eenvoudige man wat dit binne die intieme omtrek van sy eie lewe ervaar.
    Dit is ook opvallend dat die skrywer dit voorhou as ’n gebeurtenis wat vrede, eenheid en voltooiing eerder as verwoesting bring.
    K rüger se skryfstyl is sober, maar tog liries en sensitief. Hy skryf met besondere sintuiglike aanvoeling oor die landskap en oor liggaamlike kontak. Hy openbaar ook ’n fyn instink vir die oproep van veelseggende detail (soos byvoorbeeld die afgetrapte, blou skoene wat Myrte aan het wanneer sy selfmoord pleeg). In die wederkoms-gedeelte moet hy soos die mistikus ’n haas onverwoordbare ervaring beskryf.
    Dit is opmerklik dat hy konkrete beelde vol Bybelse resonansies gebruik: Die hemel skeur bo Jannes oop soos “ ’n gehawende wynsak”, iets soos ’n wind van vloeibare kristal vloei oor die eiland as dit gebeur en die aangesig van God word uiteindelik sigbaar in die spieëlbeelde op die water.
    Of ’n mens jouself intellektueel of religieus gesproke kan vereenselwig met Krüger se voorstelling van die wederkoms of nie, is daar geen twyfel dat hierdie roman ’n absoluut meesleurende vertelling is wat met groot skrywerlike vakmanskap, sorg en innerlike oortuiging uitgevoer is nie.
    * Die akademiese en literêre kritikus Louise Viljoen is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.


  • Krüger vertel van verval, vernuwing
    Thys Human

    Wederkoms deur Louis Krüger. Human & Rousseau (sagteband, 240 pp.), R165.
    Ter voorbereiding vir die matriek-eindeksamen moes ek antwoord op ’n langvraag voorberei oor die sirkelmotief in Kringe in ’n bos deur Dalene Matthee.
    Van die sirkelgange in daardie opstel kan ek nou nie meer ’n enkele woord onthou nie. Kringe in ’n bos bly my egter, om verskillende redes, tot vandag toe nog baie helder by.
    Dit sou beslis moontlik wees om Louis Krüger se nuutste roman, Wederkoms, op soortgelyke wyse te ontleed in terme van die talle verwysings na reis- en sirkelmotiewe daarin. ’n Mens sou ook, na aanleiding van die titel, allerlei slim afleidings kon maak oor die wederkoms- en hergeboortetema in die roman (verwysings na “nuwe begin” en “nuwe lewe” weerklink byvoorbeeld deur die teks).
    Of dit ’n voornemende leser gaan oorhaal om die roman te lees, is egter te betwyfel. Krüger erken self in ’n onlangse onderhoud dat dit die verhaal en die interaksie tussen karakters is wat vir hóm sentraal staan.
    Wederkoms vertel die verhaal van ’n swaargewonde Jannes Hoop wat in sy laaste ure op die Eiland, “[i]n die nánag, nadat die storm gaan lê het en net die gedrup van die náreën van die takke af en die sagte kabbeling van stroompies hoorbaar is” (p. 9), skielik van die teenwoordigheid van engele bewus raak. Hy is op pad terug na die ouhuis waar sy lewe begin het en waar hy jare lank nie was nie.
    Deur die engele wat verskyn, “ken Jannes begin én end” en sien hy sy hele lewe afspeel: sy dramatiese geboorte; die dood van sy ma; die ontwrigte, armoedige bestaan wat hy en die ander Hoop-kinders voer; sy ambivalente verhouding met sy nuttelose rondloper-pa; sy ontmoeting met en liefde vir Myrte, asook die geboorte van hul seun, Bas. (Ofskoon Jannes álles oor sy lewe weet, deel hy dit genadiglik nie onmiddellik met die leser nie, met die gevolg dat die leser deurgaans in afwagting gehou word.)
    Myrte se dood verteenwoordig ’n keerpunt in Jannes se lewe en dui ook ’n duidelike wending in die roman aan. (Ek het byna die gevoel gekry dat ek opeens ’n ander roman aan die lees was.)
    Die regering beplan ’n yslike dam en besproeiingskema en gerugte doen die ronde dat die Eiland oorstroom gaan word wanneer die dam voltooi is. Die geheimsinnige Tempeliers spoor die Eilanders tot verset aan en ’n pas bekeerde Jannes word in die maalkolk van geweld ingetrek.
    Al lesende herken ’n mens eggo’s uit Kruger se vorige romans: ’n buitestander wat teen sy sin by gewelddadige gebeure betrek word; ’n beskadigde vroue?figuur; asook die gedagte dat traumatiese ervarings in die verlede ’n skadu oor ’n mens se hele lewe kan gooi.
    Die titel van die roman dra swaar aan simboliese betekenis. “Wederkoms” dui enersyds op die herbesoek wat Jannes in die roman aan die ouhuis en dus ook aan sy verlede bring. Andersyds hou dit ook verband met die herhalende siklusse van verval en vernuwing waarvan daar in die roman sprake is.
    In ’n religieuse sin verwys “wederkoms” na die terugkoms van Jesus Christus na die aarde in die volheid van die tyd. Aangesien dié wederkoms met ’n finale oordeel gepaardgaan, hou dit ook met die apokaliptiese verband: die einde van die tyd, die vernietiging van alle aardse dinge, die oomblik waarop die grens tussen die sienlike en die onsienlike vervaag.
    Die belangrikste simbool vir die mediëring tussen die sienlike en onsienlike is die engel, ’n wese wat ’n hoër vorm van realiteit in die onsienlike herken en dus ’n verskrikking inhou vir dié wat nog aan die sienlike vasklou.
    Die “visioene” wat Jannes in sy laaste ure op die Eiland beleef, herinner onwillekeurig aan die openbaring wat Johannes op die eiland Patmos gehad het. Hoewel eietydse Bybelkommentators bespiegel dat Johannes die dissipel, Johannes die evangelis en Johannes van Patmos waarskynlik drie afsonderlike individue was, beweer J. Massyngberde Ford in haar kommentaar oor Openbaring dat die kern van dié Bybelboek (en veral hoofstukke 4 tot 22) gevorm word deur tekste wat deur Johannes die Doper geskryf is. Die opvallende naamooreenkoms tussen Jannes Hoop en Johannes die Doper is dalk nie heeltemal toevallig nie.
    Met die newetitel, Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop, maak Krüger die leser daarop bedag dat ’n mens se lewe nie noodwendig aan sy/haar geskiedenis gelykgestel kan word nie. Dit is jammer dat in Wederkoms nie verder op dié interessante gedagte ingegaan word nie.
    Hoewel Wederkoms, soos sy romanvoorgangers Herinnering aan Agnes (1995) en Gevaarlike land (1990), in Europa geskryf is (Louis Krüger het in 1984 na Nederland verhuis waar hy steeds as predikant werk), is die wêreld wat opgeroep word onmiskenbaar Afrika. Plekname soos Ais, Keidebees en Aggeneys bedui boonop ’n ruimte naby die Oranjerivier – die wêreld waarin ?Louis Krüger grootgeword het en wat hy, soos hy self erken, die suiwerste waargeneem het.
    Wederkoms kan beskryf word as ’n besinning oor menslike verhoudings teen ’n religieuse (en enigsins apokaliptiese) agtergrond. Dit is ’n roman waarin bestaande geloofsoortuigings bevestig eerder as bevraagteken word.
    Veral die gebeure in die eerste deel van die roman (die insident met die varke, Greta se vertrek, Adam Hoop se dood en begrafnis, Jannes se gedoemde huwelik met Myrte) het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak.
    Hoewel interessant en spannend, het die konflik oor die voorgenome dambouprojek, die stryd tussen die Eilanders en die regering en die uiteindelike afloop van die roman my nie op dieselfde wyse aangegryp nie. Dit is asof ek net nie dieselfde veelseggende subtiliteit en suggestierykheid daarin kon terugvind nie. Maar daar sal gewis lesers wees wat anders hieroor voel as ek!
    Krüger se vermoë om die rivierwêreld wat hy beskryf so atmosferies en oortuigend tot lewe te wek, sy vaardigheid om die onderstrominge in menslike verhoudings trefseker te verwoord en sy waagmoed om dit wat onsêbaar is in woorde te probeer weergee, maak van Wederkoms ’n leeservaring wat jou lank bybly.
    ·  Human is ’n dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg.


Boeke/n
  • Afrikaans
  • Nederlands
  • Werkstuk maak?
  • Download hier die Katern!